Screen Size

Jou tuin in Mei


Mid Herfs
Maak die beste van die laaste van die warmer dae voor die winter kom en geniet die blomme wat nog die seisoen in jou tuin floreer, soos byvoorbeeld die pragtige inheemse Babertonse madeliefie en natuurlik kosmos wat sinoniem is met hierdie tyd van die jaar.  Die volgende paar weke is baie belangrik want dit wat nou in die tuin gedoen word, gaan bepaal hoeveel blomme daar deur die winter en lente sal wees. Dit het alles te doen met goeie beplanning romdom die plant en versorging van blombolle, winter-en lente-eenjariges asook lentebloeiende stuike.


Wat is die beste manier om saad te oes?
Daar is baie tuinplante warvaan 'n mens nou kan saad oes en as dit gestoor word  tot die volgende saaityd, kan jy jouself baie geld spaar. Tuinplante soos kappertjie (Tropaeolum), bloulelie (Agapanthus), afrikaner (Tagetes) en hanekam (Celosia) maak nou saad wat gepluk kan word. Saad van talle groente en kruie, soos basiliekruid (Ocimum), anys (Pimpinella), koljander (Coriandrum), dille (Anethum) en vinkel (Foeniculum), is ook nou gereed om geoes te word. Pluk die saadkoppe voordat dit heeltemal droog is, maar moet ook nie te vroeg pluk as die saad nog nie volwasse is nie. Plaas in 'n bruinpapiersak om te droog. Wanneer dit heeltemal uitgedroog is, kan die saad van die huis en kaf geskei word. Dit kan dan weer in pakkies geberg word. Onthou om die naam van die saad op die pakkie te skryf om verwarring te voorkom. Dit is belangrik om die saad in papiersakkies of koeverte - enige materiaal wat kan 'asemhaal' - te stoor sodat die saad nie verrot nie. Plastieksakkies is nie vir die doel geskik nie. Saad van vlesige vrugte soos papajas, granadillas, pampoen en tamaties moet op 'n vel koerantpapier geplaas word om droog te word voordat dit van pulp geskei en gebêre word om droog te word. Maak seker die pakkies is goed geseël sodat insekte nie daarin kan kom en die saad beskadig nie. Stoor in 'n koel plek.

 Kombuistuin (kruie, groente en vrugte)
Sit gereeld lokaas vir vrugtevlieg soos Eco Fruitfly Bait van Efekto uit sodat enige vrugte wat nog aan die bome is nie aangeval word nie. Piesangs moet nou'n goeie handvol organiese Vita Fruit & Flower - 3:1:5 van Talborne Organics kry om die plante te versterk voor die winter en ook om die ontwikkelende vrugte te ondersteun. Gee sitrusbome elke drie weke 'n kombinasie van twee handevol organiese 3:1:5 en twee eetlepels magnesiumsulfaat om die ontwikkelende vrugte te voed en smaakvolle vrugte te verseker. Begin nou met die voorbereiding van beddings om aarbeie te plant. Spit ou kraalmis en baie kompos in die grond in. Strooi ook 'n handvol Vita Veg - 6:3:4 van Talborne Organics per vierkante meter en werk goed in. Tamaties moet op 'n weeklikse basis teen swamsiektes behandel word, gebruik iets soos Starke Ayres / Kombat se Dithane om te verseker hulle dra nog goed tot die eerste koue arriveer. Wintergroente wat gesaai is, moet gereeld met 'n vloeibare kunsmis bemes word; gebruik Guanoflo van Protek of Nitrosol hiervoor. Knoffelbolletjies (Knoffelhuisies) kan nou geplant world. Die volgende groente en kruie kan nou gesaai word: beet, blomkool, boontjies (in rypvrye areas), dwergspinasie, ertjies, geelwortels, komkommer (in rypvrye areas), kropslaai, murgpampoen (in rypvrye areas), pietersielie, prei, raap, radys, seldery en ui.

Wenk  
Balsemkopiva (Bulbine frutescens) is nie net 'n aantreklike tuinplant nie, maar ook 'n uitstekende kuur vir velaandoenings soos brandwonde en skurwe vel. 

Hierdie inheemse vetplant, ook bulbinella genoem, moet nie met die vuurpylagtige katstert (Bulbinella floribunda) verwar word nie.

Lekker Tuinmaak!
JJ




Copyright © Garden World 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy