Screen Size

Jou Tuin in Maart

Met die somer wat amper op sy rug lê en skaduwees wat al hoe langer word, is dit ‘n plesier om in die koeler dae in jou tuin te werk. Maart is die maand om jou tuin te begin opruim en al die dooie blare en blomme te verwyder. In baie tuine sal jy sien dat die bessies en blare aan jou struike en bome nou begin verkleur.

Dit is nou die ideale tyd om gereed te maak vir die wintermaande, maar ook vir die lente. Waar jou eenjarige somerplante nou stadig aan begin afgaan, kan jy dit verwyder en jou beddings begin voorberei vir herfsaanplantings wat jou winter en lentetuin met kleur sal optower.

Beplan jou tuin en maak ‘n lys van al jou gunstelling saailinge en bolle wat jy graag sou wou saai of aanplant. Staatmaker saailinge vir die koeler maande is byvoorbeeld: Namakwalandse Madeliefies, Heuningblommetjies, Gousblomme, Foxgloves, Gazanias, Kappertjies, Viooltjies, Gesiggies, Papawers, Sleutelblomme en Pronkertjies om ‘n paar te noem. 

Pronkertjies is altyd ‘n wenner in elke tuin. Plant jou knie hoog, “Bijoux” en rank pronkertjie saad nou. Hulle hou van ‘n diep omgewerkte kompos ryke grond en verkies ‘n vol son posisie in die tuin. 

Spit voldoende goeie kwaliteit kompos, vry van onkruid sade, in nagenoeg 30cm van jou grond in. ‘n Algemene kunsmis of saailing kunsmis kan ook ingewerk word. ‘n Goeie riglyn is so nagenoeg ‘n handvol kunsmis per vierkante meter. Additionele beenmeel is altyd ‘n goeie idee vir beter wortel ontwikkeling.  

Maak altyd seker wat die behoefte van jou saailinge is, naamlik: verkies hulle son of skadu, baie of min water! Groepeer altyd plante wat van die selfde groei omstandighede hou saam. 

Daar mag ‘n tekort wees aan sekere lente bolle soos byvoorbeeld Hiasinte, so koop jou bolle vroegtydig. Hou dit op ‘n koel donker droeë plek en onthou egter om nie jou lente bolle te vroeg te plant nie, aangesien die grond temperatuur eers moet daal. Bolle wat in die winter en lente sal blom sluit in onder andere vir halfskaduwee: Anemone, Freesia, Hiasinte en Tulpe. Halfskaduwee en vol son: Narsings, Affodile, Muscari en Lachenalia. Vol son: Ixia, Ranunculus en Spiraxis. 

Gee ook aandag aan jou roosbome, verwyder alle geel en dooie blare en blomme. Gaan voort met ‘n spuit en bemestings program. Spuit met Rosecare of Rose Protector en bemes jou rose met ‘n 8:1:5 roos kunsmis of Vigorosa en maak twee keer per week goed nat. As jy tekens van swartvlek en poeieragtige meeldou op jou rose se blare het, kan jy jou plante met Funginex, Chronos of Orius behandel. In warm streke kan jou rose nog mooi blom tot in Junie.

Laatsomer is daar ‘n paar reëls wat jy in gedagte moet hou as dit kom by grasperke. Moet nie nou jou grasperk te kort sny nie, dit sal veroorsaak dat jy die onderste wortels blootstel aan die son en sal jy sodoende jou grasperk se wortels vinnig laat uitdroog. Maak jou grasperk gereeld nat, deur ‘n sproeier vir ongeveer 15 minute op ‘n slag op ‘n spesifieke area te plaas. Dit kan twee tot drie keer per week herhaal word en verkieslik laat middag of vroegoggend. Voer jou grasperk nou vir die laaste keer hierdie seisoen met ‘n 3:2:1 kunsmis.

Tuingroete
JJ
Copyright © Garden World 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy