Screen Size

Jou grasperk dien as die skilderdoek waarop jy jou tuin beplan

Een van jou tuin se grootste bates is ‘n mooi grasperk en dit verskaf groot genot aan oud en jonk. Vir die ouer garde is dit mooi om na te kyk en vir die jonger garde om met hul kinders daarop speletjies te speel. 

Laatsomer is daar ‘n paar reëls wat jy in gedagte moet hou as dit kom by grasperke. Moenie nou jou grasperk te kort sny nie, dit sal veroorsaak dat jy die onderste stamme en wortels blootstel aan die son en sal jy sodoende jou grasperk se wortels vinnig laat uitdroog. 

Maak  jou grasperk gereeld nat deur ‘n sproeier op jou grasperk vir ongeveer 15 minute op ‘n slag op ‘n spesifieke area te plaas. Dit is oorgenoeg en kan twee tot drie keer per week herhaal word. Ek verkies om my grasperk in die laatmiddag of vroegoggend nat te gooi. 

Dit is ook nou tyd om jou grasperk vir die laaste keer hierdie seisoen te voer, die korrekte  kunsmis om nou te strooi is 3:2:1. 

Grasperkruspes kan ‘n problem wees gedurende drie maande van die jaar, Januarie tot Maart. Die wurms vreet die gras net onder die grondoppervlak af, sodoende kry jy los stukke gras oral en jou grasperk vrek ook plek plek terug.  As jy nou jou grasperk teen die wurms behandel, sal dit die wurms doodmaak voor hulle weer in papies verander, so sal jy die siklus kan breek. Gebruik iets soos Malathion daarvoor. Wees versigtig met kinders en troeteldiere op jou grasperke na enige giftoediening. 

As jou rose in jou tuin na die somersnoei nog mooi blom, moet jy onthou om nou gereeld die dooie knoppe uit te breek om nuwe blomknoppe te stimuleer. Kyk ook uit vir swartvlek en poeieragtige meeldou op die rose se blare. As jy tekens daarvan op jou rose het, kan jy jou plante met Funginex, Folicur of Orius behandel.  Voer nou jou rose met ‘n 8:1:5 kunsmis en maak twee keer per week goed nat. Jou rose sal aanhou blom tot diep in die herfs.

Tuingroete vanaf Garden World

JJ  
Copyright © Garden World 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy