Screen Size

Beplan jou winterstuin

Maart is die ideale tyd vir ons tuinliefhebbers wat vroeg hulle beddings wil begin regkry vir die plant van die wintersaailinge. Ek self het ‘n voorkeur vir wintersaailinge, want die kleur is soveel meer intens en daar is so baie om mee te speel. 

Nou kan jy regmaak vir die wintermaande, maar ook vir die lente. Waar jou eenjarige somerplante nou stadig aan begin afgaan, kan jy dit verwyder en jou beddings begin voorberei vir herfsaanplantings wat jou winter- en lentetuin met kleur sal optower.

Beplan jou tuin en maak ‘n lys van al jou gunstelling saailinge en bolle wat jy graag sou wou saai of aanplant. Staatmaker saailinge vir die koeler maande is byvoorbeeld: Namakwalandse Madeliefies, Heuningblommetjies, Gousblomme, Vingerhoedjies, Gazanias, Kappertjies, Viooltjies, Gesiggies, Papawers, Sleutelblomme en Pronkertjies, om ‘n paar te noem. 

Pronkertjies is altyd ‘n wenner in elke tuin. Plant jou knie hoog, “Bijoux” en rank pronkertjiesaad nou. Hulle hou van ‘n diep (Ten minste 500 mm diep) omgewerkte komposryke grond en verkies ‘n volson posisie in die tuin. 

Spit voldoende goeie kwaliteit kompos van Bark Unlimited, vry van onkruidsade, in nagenoeg 30 cm van jou grond in. ‘n Algemene kunsmis of saailingkunsmis soos Talborne se ‘Seedling Food’ kan ook ingewerk word. ‘n Goeie riglyn is so nagenoeg ‘n handvol kunsmis per vierkante meter. Addisionele beenmeel is altyd ‘n goeie idee vir beter wortelontwikkeling.  

Dink net hoe ongelooflik mooi ‘n kombinasie van ‘n bedding vol sagte pers sleutelblomme (Primulas) en heldergeel Affodille daarmee saam kan lyk. 

Maak altyd seker wat die behoefte van jou saailinge is, naamlik: verkies hulle son of skadu, baie of min water. Groepeer altyd plante wat van die selfde groei-omstandighede hou, saam. 

Bolle wat in die winter en lente sal blom sluit in onder andere vir halfskaduwee: Anemone, Freesia, Hiasinte en Tulpe. Halfskaduwee en vol son: Narsings, Affodile, Muscari en Lachenalia. 
Vol son: Ixia, Ranunculus en Spiraxis. 

Daar is ‘n paar basiese reëls wat ‘n mens in gedagte moet hou vir sukses met saailinge. 

1. Kom ons begin eers by die grondvoorbereiding. As jy eers gesien het wat die verskil is met goeie grondvoorbereiding sal jy nooit weer saailinge plant sonder die regte voorbereiding nie.  Saailinge hou van ‘n los, fyn, goed gedreineerde en vrugbare medium. Op die oog af is die reël, hoe donkerder die grond, hoe ryker is dit. As jou grond meer geel of ligbruin van kleur is, kan jy maar weet jou grond gaan baie kompos of kraalmis nodig hê. Saam met die kompos is dit ook baie belangrik om beenmeel of superfosfaat en dan ook ‘n goeie saailingvoedsel in te werk. Jy kan die bedding ongeveer 20 - 30 cm diep omwerk, en dan belug (Suurstof) jy sommer die grond ook. Sou jy beplan om êrens Pronkertjies te plant moet jy ten minste ‘n halwe meter diep bewerk en ook jou kompos verdubbel. Maak seker dat jou Pronkertjies voldoende son kry, veral oggendson.
   
2. Lig is die volgende belangrike aspek en veral in die winter is dit nou eers belangrik. Soos die aarde draai, sit die son al hoe laer en word die skaduwees al hoe langer. Daglig word ook baie minder so ‘n mens moet seker maak wat word waar geplant. Poppies (Papawers), Gesiggies, Pronkertjies en ‘Petunias’ (Oupa se Hoed) hou van baie son waar Primulas (Sleutelblomme), Cinerarias en Primroses weer van halfdag son tot skaduwee hou.
 
3. Nou moet ons besluit hoeveel water. Sekere plante hou van baie water en ander wil weer droog wees. Dis baie belangrik om jou plante in die oggend nat te maak gedurende die winter. Papawers, Sleutelblomme en Gesiggies hou van baie water en ‘Petunias’ weer van min en dis hoekom ons ‘Petunias’ op die hoëveld in die winter plant en in die Kaap in die somer.

4. Om seker te maak jou plante groei sterk en blom oorvloedig, voer hulle weekliks met oplosbare kunsmisse soos bv. Plaaskem Multifeed, Wonder se Seagro, Protek se Guanoflow of Wonder Nitrosol.

Lekker Tuinmaak!
JJ
Copyright © Garden World 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy