Screen Size

Wenke vir jou Somertuin

Ons wil almal graag ons tuine mooi maak vir die somer. 

Vir mooi kleur en impak, moet ons kyk na onder andere saailinge. Dit is belangrik om jou grond voorbereiding reg te doen. Eerstens moet jy die grond ten minste 20cm omspit en genoeg kompos en kraalmis inmeng. Wees versigtig om nie te veel kraalmis in te werk nie. Wat nog beter werk is as ‘n mens saailing voedsel by strooi voor jy plant sodat die plante van die begin af lekker sterk word.   

Ek hou daarvan om kleur groeperings van saailinge te maak. Dit is ‘n feit, hoe meer jy saailinge voer en ou blomme en saad uitbreek, hoe beter blom hulle. Baie van jou saailinge soos byvoorbeeld jou Salies en Grasangeliere kan ook in die midseisoen nadat hulle die eerste keer geblom het, teruggesny word. Dit sal dan weer sterk uitgroei, bosserig word en ook baie meer blom.

Die roosbome lyk gewoonlik fantasties so vroeg in die seisoen maar onthou dat hulle ten minste twee maal per week deeglik natgemaak moet word. As jou rose in baie sanderige grond geplant is, sal die grond baie vinnig dreineer en droog word. Gebruik ‘n deklaag van klein boombas stukkies of grondboontjie doppe om die rose se wortelstelsels te bedek. Soedoende hou jy die wortels koel en klam en onkruid word beheer.

Gebruik ‘n stadig vrystellende organise 3;1:5 bemesting om blomvorming aan te moedig, maar indien jy jou rose ‘n vinnige hupstoot wil gee, gebruik ‘n 8:1:5 kunsmis. Die nuwe groei van jou roosbome is gewoonlik baie vatbaar vir plantluise en swamsiektes. Spuit jou rose gereeld voorkomend met ‘n toepaslike gifstof soos byvoorbeeld Rosecare of Rose Protector. Wanneer die temperatuur en voggehalte baie hoog is, kan jou rose swamsiektes op die blare ontwikkel. Dit is gewoonlik bruin of geel kolle wat op die blare voorkom. Daar kan ook ‘n poeieragtige skimmel voor of agter op die blare of op die klein blomknoppe ontwikkel. Indien hierdie simptome voorkom, spuit so gou as moontlik met ‘n swamdoder soos byvoorbeeld Funginex, Tenazole of Chronos. Onthou asseblief om altyd die instruksies van alle gifstowwe en kunsmis te volg.

Nou is dit ‘n goeie tyd om jou verskillende kleure en varieteite Krismisrose “Hortensias” (Hydrangea) aan te skaf. Kyk uit vir die “Endless Summer” varieteite. Hierdie varieteite is meer kompak en blom reg deur die somer. Somige mense dink ook dat Krismisrose soos lakmoes papier werk – blou is suur en pienk is alkalies. Dis nie heeltemal waar nie! Blou beteken baie suur en Pienk beteken minder suur! Dis reeds die rede hoekom ‘n mens altyd suurkompos gebruik as jy jou Krismisrose plant. ‘n Spesiale plantvoedsel vir suurliewende plante kan ook gebruik word. Onthou dat Krismisrose doen op hulle beste in oggendskadu en middag son.   

Lekker tuinmaak!
Groen Groete 
JJ 
Copyright © Garden World 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy