Screen Size

Tuinwenke vir November

Ons kom al hoe nader aan die warmste tyd van die jaar en mens kry gewoonlik al in November ‘n voorsmakie van dit wat vir ons in Desember en Januarie wag met die dagtemperature. Mense vra my gereeld wat gebruik ek die meeste in die tuin en snaaks hoe mens nie meer skaam is oor die feit dat ‘n hoed heel eerste op die lys van benodighede lê nie. 

Hou jou daglelies dop, want hulle behoort eersdaags vol in blom te wees. Daglelies groei so maklik en is so gehard dat menige tuinliefhebber al die fout gemaak het om te dink dat dit inheems is. Al ooit gewonder hoekom dit daglelies genoem word? Die rede is omdat die blomme self net vir een dag hou. Gelukkig is daar so baie blomknoppe wat vir ‘n paar weke elke dag oopmaak dat mens blomme in oorvloed vir amper ‘n maand lank beleef. Interessante feit is dat daglelieblomme ook eetbaar is, so as jy die maand ‘n onthaal het kan jy gerus van die blomme pluk om jou borde of slaaibak te verfraai. Mens kan selfs die blomme in ‘n sagte deeg druk en diep braai en voorsit as deel van jou gereg.

Ja, dit het al gereën, maar ons kan doen met nog baie meer water uit die hemele. Het jy al ooit die som gemaak oor die hoeveelheid water eenvoudig vir jou eie gebruik verlore gaan met elke donderbui as jy dit nie opvang nie. Elke keer as dit reën en jy nie gereed is om die water op te vang nie, verloor jy letterlik etlike duisend liter water. Huise met geute en afvoerpype is natuurlik baie makliker om die water op te vang en te herwin. Met die feit dat ons water in groter volumes, minder gereeld val moet mens jouself die vraag vra of dit nie dalk nou tyd is om hierdie bron beter te bewaar nie. (Geen water is gratis nie, behalwe die water wat jy uit die lug opvang.)

Dis amper tyd om jou Kersboom op te maak. As jy een van daardie mense is wat elke jaar ‘n natuurlike kersboom verkies en nie net die een wat uit ‘n boks kom nie sal jy weet dat gewone ou kersbome oor die laaste paar jaar baie skaars was. Dalk kan jy nou jou gedagtes laat gaan en dalk iets anders hierdie jaar gebruik waaronder jou gesin hulle geskenke kan plaas vir Kersvader. Ek was nog altyd ‘n voorstaander vir inheemse geelhoutbome as ‘n kersboom. Die takke is lekker sterk vir die versierings, die blare is ‘n lowergroen kleur en dit is ‘n pragtige inheemse boom in so te sê enige tuin.  Mens hoef ook nie noodwendig die kersboom uit te plant na die feesgety nie, jy kan dit eenvoudig in ‘n groot pot hou, terugsny en voer. Ons het by Garden World ‘n hele klompie van hierdie Henkel-se-Geelhout (Podocarpus henkelii) bome eenkant gesit, gesnoei en gereeld gevoer vir hierdie spesiale kersseisoen!

Lekker Tuinmaak!

JJ

jj@gardenworld.co.za

Copyright © Garden World 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy