Screen Size

Jou tuin in Julie

Struike, klimplante en bome:
Maak seker dat gevoelige plante in koue areas teen koue beskerm word. Gebruik rypdoek wat genoeg lig deurlaat sodat dit nie nodig is om dit elke dag af te haal nie. As jy goiingsak (in Engels bekend as 'hessian') gebruik, moet jy dit elke dag afhaal omdat dit dig geweef is en die plante skade kan ly weens 'n gebrek aan sonlig. Baie mense verkies goiingsak bo die rypdoek juis omdat dit digter is en meer beskerming bied in kouer streke. Hardehoutsteggies kan nou gesny en geplant word. Onthou om Makhro Home & Garden se Dynaroot 3 te gebruik om wortelvorming aan te moedig.


Hoe kan ek my plante teen ryp beskerm?
Ons is almal geneig om plante te plant wat nie 100% geskik is vir ons klimaat nie; ietsie om 'n skadukol net 'n bietjie meer tropies te laat lyk, of 'n mooi fokusplant wat nie noodwendig so gehard is nie. Hierdie plante moet goed beskerm word deur die wintermaande om seker te maak hulle kry nie rypskade nie of andersins om die skade tot die minimum te probeer beperk. Daar is verskeie voorsorgmaatreēls om die skade van ryp of koue winde te vermy of verminder:


Gee plante verkieslik in die oggend water. Wag tot die son die lug en water 'n bietjie opgewarm het en gee dan water. Teen een uur moet daar nie meer water gegee word nie, maar eerder oorgestaan word na die volgende dag. Die rede hiervoor is sodat die grond, plante en selfs die lug kans kry om effens uit te droog voor die aand en volgende oggend se koue aanbreek. Nat plante doen baie meer skade op as plante waarvan die blare droog is. As die grond droog is, sal die humiditeit laer wees en die kanse dat ryp vorm ook minder wees.


Plant gevoelige plante op beskutte plekke waar die kanse op ryp minder is en hulle ook teen wind beskut sal wees. Voorbeelde is langs of onder groot bome, op 'n beskermde stoep of self langs 'n baksteen- of betonmuur wat deur die dag hitte absorbeer en dit gedurende die aand weer geleidelik uitstraal. Deur plante aan die noordekant of oostekant van die huis te plant bied ook ekstra beskutting teen die koue wat gewoonlik uit die suide of weste kom. 


Gebruik rypdoek of goiingsak om plante teen rypskade te beskerm. Die rypdoek of goiingsak keer nie dat ryp vorm nie, maar dien as 'n buffer tussen die ryp en die plant. Dit breek ook die spoed van die wind en verhoed dat die blare deur die koue wind geskroei word. Ryp vorm gewoonlik laer af (nader aan die grondoppervlak) aangesien die beweging van die lug keer dat ryp hoër as 1.5m van die grond af vorm. Dit is dus nie nodig om groot plante aan die kante en van bo af te bedek nie. Groot plante kan 'n 'gordyn' reg rondom kry tot en met so 2m hoog, maar kan bo oop gelos world. Kleiner plante kan heeltemal bedek word. Dit is ook belangrik om die rypdoek of goiingsak te verwyder voor plante water gegee word sodat dit droog is wanneer dit saans teruggeplaas word.


Kweek sensitiewe plante in kweekhuise wat met plastiek, veselglas, polikarbonaatplate of glas bedek is. Dit is belangrik om te onthou dat hierdie strukture die hitte wat deur die dag opgebou is, net vir 'n kort tydperk sal behou. Teen die oggend is die temperatuur in die kweekhuis dieselfde as wat dit buite is. Deur die kweekhuis te verhit kan die 'verkoeling' deur die nag verhoed word. 'n Kweekhuis sal help om skade wat deur koue wind veroorsaak word te verhoed, al word die kweekhuis nie gedurende die nag verhit nie. 


Die verantwoordelike gebruik van gifstowwe in die tuin:
Die gebruik van gifstowwe is deesdae onvermydelik in die meeste tuine om 'n verskeidenheid peste en plae in toom te hou. Dit is van kardinale belang om seker te maak dit word korrek gebruik. Maak nie saak hoeveel klem gelê word op die veilige gebruik van gifstowwe nie, daar is altyd onkundige en onverskillige mense wat die volgende riglyne verontagsaam, soms met tragiese gevolge:
1. Stoor gifstowwe in 'n koel area uit die son sodat dit langer kan hou en nie verslaan nie.
2. Hou die gifstowwe in 'n sluitkas buite bereik van kinders wat dit per abuis kan inkry of daarmee in kontak kan kom wanneer hulle speel.
3. Hou alle gifstowwe in hulle oorspronklike verpakking sodat daar nie onsekerheid is oor die produk en die veiligheid daarvan nie. Die voubiljet moet ook altyd saam gehou word sodat die verdunning van die gifstowwe nie verkeerdelik aangepak word nie.
4. Maak seker die gifstofhouers word goed toegemaak na die gebruik daarvan sodat dit nie lek en moontlike kontaminasie veroorsaak nie.
5. Hou by die menginstruksies - onthou, dit sal nie beter werk as dit sterker aangemaak word nie, dit hou net groter gevaar van die vergiftiging vir die gebruiker in!
6. Moenie verskillende soorte gifstowwe met mekaar meng nie aangesien dit 'n gevaarlike reaksie kan veroorsaak of die gifstowwe kan neutraliseer en onbruikbaar maak.
7. Dra beskermende klere, handskoene en 'n masker wanneer gifstowwe hanteer word.
  8. Was die spuitkan deeglik na elke keer se gebruik. Die beste opsie is om twee aparte, duidelik gemerkte spuitkanne te gebruik. Een kan vir insekdoders en swamdoders gebruik word en die ander een vir onkruidbeheer. Dit sal verhoed dat onkruiddoder nie per ongeluk op jou tuinplante beland nie.
9. Dit is raadsaam om enige gifstowwe met 'n kleefmiddel te meng wat ook 'n verspreider en 'n penetreerder bevat.
10. Mense op die platteland wat boorgatwater gebruik, moet 'n pH buffer by die water meng om seker te maak die gifstof gaan wel werk. As die water óf baie suur, óf baie alkalies is sal die gifstof geen effek hê nie en dit is waarom jy die water se pH eers moet neutraliseer.
11. Op die gifkonsentraat se verpakking is daar'n kleurband wat die graad van giftigheid van die produk aandui. Groen dui op 'n produk wat die minste toksisiteit bevat, blou is effens sterker, geel nog sterker en rooi is dodelik. Maak doodseker dat die produk die minste skadelike effek op die natuur gaan hê.


Wenk 
Indien rotte en muise 'n probleem in die tuin is, moet daar verkieslik rotgif gebruik word wat uil-vriendelik is. Praat met kundiges wat die gifstowwe verkoop en kry die produkte wat nie die knaagdiere se natuurlike predatore ook vergiftig nie. Dink ook daaraan om 'n uilboks in jou tuin te laat installeer. Dit is verbasend hoe vinnig die rot- of muisprobleem sal verbeter.
Lekker Tuinmaak!
JJ

JJ van Rensburg - Elke seisoen is jou beste seisoen
BRIZA ISBN: 978-1-920217-44-0
Copyright © Garden World 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy