Screen Size

Nuttige tuinwenke vir April

Die laaste somerbolle se blare vrek nou terug en baie tuiniers wil weet wat om nou te doen. As jy Amarilla-bolle het kan jy hulle net so in die grond los. Sodra die bolblare ongeveer twee derdes of meer terug gevrek het, kan jy dit maar afsny. Meeste van die bol se voeding wat in die blare was, sal dan terug beweeg het na die bol. Wat jy wel moet doen, is om jou bolle en meerjarige plante te merk waar hulle staan sodat jy of jou tuinier nie die bolle onwetend uithaal of seermaak nie. Gekleurde varkore kan binne ‘n maand of wat gelig word en verdeel word. Moet dit nie te gou doen nie anders sal die plante te vinnig in die winter al begin ontwikkel en groei.    

Nou dat jou plante in ‘n rusperiode gaan, is dit ‘n goeie tyd om plante wat geskuif moet word, te verplant. Herbeplan jou beddings en kyk waar en watter plante nodig is om te skuif. Daar is ‘n paar goue reëls wat jy in gedagte moet hou om jou plante suksesvol te verplant. Die beste is om jou plante binne ‘n dag te skuif. Merk jou plant-orientasie en verplant in dieselfde rigting sodat blare en takke wat nie gewoond was aan die noordelike son, nie nou skielik brand nie. 

Sny jou plante wat jy wil verplant ongeveer ‘n derde terug. Onthou jy verminder en versteur die wortels, so jy kan nie die bogrondse groei net so los nie. Die verhoudings moet dieselfde bly. En dan die laaste maar tien teen een ook die belangrikste – deurweek die grond van die plante wat jy verplant het baie goed met water. Jy moet ontslae raak van al die lug in die grond sodat die wortels weer in aanraking kan kom met die grond en nie uitdroog nie, en water uit die grond kan opneem.

Ondersoek jou Alwyne en kyk of die Alwyne wit word. Dit is gewoonlik blare wat deur dopluise aangeval word en die insekte sit teen mekaar op die buitekant van die blare, wat die blare ‘n wit skynsel gee. Die ou algemene manier om van die probleem ontslae te raak is om Oleum te spuit (sien aanwysings op die houer). Onthou egter om jou Alwyne ten minste drie keer te spuit, met ‘n wagperiode van ten minste twee weke tussenin. As die plante klein is, kan jy selfs die Oleummengsel op die plante verf. Herhaal die behandeling elke twee weke totdat die dopluis maklik loskom as jy daaraan vryf. Die gifstof Complete is ‘n sistemiese doder wat op die wortels van die plante gegooi kan word. Die gifstof word deur die plant se wortels opgeneem en dan deur die plant versprei. Indien jy Complete gebruik sal jou plante tot 6 maande beskerm wees teen insekte.    

Nou is die regte tyd om Namakwalandse madeliefies (African Daisies) in die vol son te saai. Onthou die geheim is om die saad met ‘n fyn sproeier versigtig vir die eerste twee weke nat te maak. Daarna kan jy die saad los om hulle af te hard, en een of twee keer ‘n week se watertoediening sal meer as voldoende wees. 
Copyright © Garden World 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy