Screen Size

Tuinwenke vir Desember

Desember is ‘n luilekker warm tyd van die jaar. Dis ook gedurende hierdie tyd dat jou plante in die tuin die meeste groei en as jy nie nou genoeg kunsmis en water toedien nie, gaan die ontwikkeling baie stadig en traag  wees. ‘n Algemene kunsmis soos 2:3:2 of iets organies soos Talborne se Vita Grow kan nou om jou plante gestrooi word. As jou tuin meer uit blommende struike soos Hibiskusse en Rose bestaan, kan jy Makhro Home & Garden se One for All 13:3:8 kunsmis toedien.     

Meeste vrugte is nou besig om ryp te word. As jy vergeet het om jou vrugtebome te spuit, of nie geweet het wanneer om dit te spuit nie, is dit nou ‘n  goeie tyd om ‘n aantekening te maak van wanneer jou vrugte ryp word of geword het. Sodoende kan jy hulle volgende jaar op die regte tyd spuit. Vroëerjare het ‘n mens altyd begin spuit sodra die vrugte begin ontwikkel, maar dis nou gevind dat dit hopeloos te vroeg is as mens in ‘n area bly waar vrugtevlieë nie ‘n groot probleem is nie. Twee keer spuit is voldoende - as die vrugte halfpad ontwikkel is vir die eerste keer en dan ongeveer ‘n maand voor pluktyd. Hier kan jy Makhro Home & Garden se Kemprin of Protek se Cypermethrin gebruik.

Baie mense met Katjiepierings sukkel deesdae met stink goggas wat hulle aanval. Dis algemeen om hierdie stink goggas op jou Katjiepierings te sien. Gelukkig is die goggas groot genoeg dat ‘n mens hulle kan vang en van die plante afhaal sonder om gif aan te maak en te spuit. Dit is nou as jy nie so baie gif in jou tuin wil gebruik nie.

Grasperke kan nou met Talborne se Vita Green 5:1:5 kunsmis gevoer word. Onthou 5:1:5 se stikstof-samestelling is hoog en is spesifiek gemaak om die blare van jou plante te voed. Dis altyd raadsaam om jou grasperk goed nat te gooi voor en na toediening. Dit kan ook baie suksesvol toegedien word net voor ‘n reënbui. 

Lekker Tuinmaak!

JJ

Copyright © Garden World 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy