Screen Size

Die begin van nog ‘n somer!

September is sekerlik die maand van beloftes. Die belofte van reën, die belofte van warmer dae, die belofte van ‘n nuwe somer en ook die belofte van nuwe groei. Gedurende September maak ons gereed vir somer, plant ons ‘n boom, behandel ons ons rose en nou  begin die stryd teen vrugtevlieë om topgehalte vrugte te verseker. 

Baie sleutelblomme, gesiggies en gousblomme blom nou eers op hulle mooiste en alhoewel dit tyd is om hulle uit te haal, kan jy maar tot so middel September wag voor jy dit doen. Soos die dae warmer word, gaan jou wintersaailinge meer saad skiet en dan kan jy gerus uithaal en voorberei vir jou somersaailinge. Hoe vroeër jy voorberei, hoe langer en meer kleurvol sal jou somerprag wees. Die moontlikheid dat ons weer die waterskaarste en hitte gaan beleef van twee jaar gelede in die binneland is ‘n werklikheid en ons moet nou al onsself voorberei daarvoor. Beste manier sal wees om jou grond goed voor te berei met genoegsame kompos, veen en ook waterhoudende Gel. Iets anders wat saam met die kompos ‘n reuse verskil maak met saailinge is saailing-voedsel. Dit is gewoonlik organies en voer jou saailinge so te sê die hele seisoen. 

Die eerste September was altyd boomplantdag, maar nou is die hele September boomplantmaand! Baie mense vra altyd wanneer is ‘n goeie tyd om ‘n boom te plant en my antwoord is gewoonlik 15 jaar gelede was ‘n goeie tyd. Ons plant hopeloos te min bome deesdae.  Dié jaar is daar weereens twee bome van die jaar vir 2017 en dit is Ziziphus mucronata (Harige Blinkblaar Wag ‘n Bietjie) en die Euclea pseudebenus (Ebbeboom). Die Ziziphus is meer geskik vir die hoëveld en binneland waar die Euclea weer net in die warmer areas kan groei. Al plant jy nie noodwendig een van die bogenoemdes nie, is dit nog steeds ‘n goeie idee om wel ‘n boom of twee te plant. 

Oktober is die maand van rose, maar as jy ‘n ontploffing van kleur verwag moet jy nou jou rose met Wonder 8:1:5 voer en ook meer gereeld natgooi. 8:1:5 is hoog in Stikstof(8) vir lowergroen blare, en ook hoog in Kalium(5) vir massas blomme. .  

Daar is niks so lekker soos om ‘n stroopsoet perske te pluk en onmiddelik te eet nie, maar die vrugtevlieë maak dit nie altyd moontlik nie. Gewoonlik as ‘n mens vrugtebome het wat vroeg in die seisoen dra, is vrugtevlieë nie ‘n groot probleem nie. As jy wel die later variëteite het wat gespuit moet word, moet jy nie te vroeg begin spuit nie, anders sal jy al die bye doodspuit. Wag eers tot meeste blomblare geval het voor jy begin spuit. Beste raad om te volg is om eintlik eerder Efekto se Eko-vriendelike vrugtevlieg lokaasmiddel teen die stamme te spuit of te verf.  

Mag dit die beste Lente en Somer van jou lewe wees!   

Lekker Tuinmaak!

JJ


Copyright © Garden World 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy